Wat is hipnose?

   

'n Oostenrykse geneesheer, Franz Anton Mesmer (1734-1815), word beskou as die vader van moderne hipnose en hipnoterapie. Voordat behandeling in hipnose met hipnoterapeutiese tegnieke plaas-vind, mag dit egter behulpsaam wees om eers 'n basiese begrip van wat die toestand van hipnose behels, te verkry.

Weinig van wat in sogenaamde "verhoogshipnose" uitgebeeld word, is inderdaad hipnose.  Die doelstelling van "verhoogshipnotiseurs" is gerig op VERMAAKLIKHEID en nie GENESING nie.  Daarom skep hulle slinkse, uitpsattige situasies waarin die toeskouers gekul word om te glo dat die "hipnotiseur" volle beheer oor die deelnemers besit, deur hulle te onderwerp aan sy "mag", hulle in 'n diep slaap te plaas en hulle eienaardig te lat optree. In werklikheid het geen mens daardie hoeveelheid mag of beheer oor enige ander persoon nie.  Aangesien die primêre funksie van die onbewuste verstand oorlewing is, met ander woorde om die integriteit van die self te beskerm, laat dit 'n persoon nooit toe om beheer te verloor nie en gevolglik minag dit suggesties wat as bedreigend tot 'n mens se fisiese, emosionele of geestelike oorlewing beskou word.  Gevolglik weet ons met sekerheid dat die hipnoterapeut geen mag (toorkrag of ander) oor die pasiënt besit nie.

Tydens die meer ontspanne vorm van hipnose ervaar ons 'n soortgelyje gevoel of toestand as wanneer ons ontwaak na 'n goeie nagrus.  Terwyl ons diep ontspanne voel, is ons in staat om ons drome te herroep, maar nadat ons byvoorbeeld opstaan om die badkamer te besoek, kan ons nie meer ons droom onthou nie.  Daarteenoor ervaar ons die aandagtige vorm van 'n hipnotiese toestand wanneer ons bestuur van punt A na B.  Nadat ons vir 'n aantal kilometers bestuur het, kom ons tot die besef dat ons so gefokus was op iets anders dat ons nie eens die voertuig en indien iemand voor ons ingeswenk het, sou ons oombliklik gereageer het.

Weens die kompleksiteit daarvan, is dit uiters moeilik om die toestand van hipnose presies te omskryf.  Hipnose kan beskou word as 'n afwisselende toestand van bewustheid, waar pasiënte op 'n meer direkte wyse met hul emosies handel, in plaas daarvan om dit te rasionaliseer.  Gedurende hipnose is die pasiënt diep ontspanne, in 'n verhoogde toestand van waaksaamheid, geheel en al gefokus, die verstand glashelder en denke sowel as al die sintuie word skerper.  Dit bring 'n groter openheid vir suggesties te weeg.

Hipnoterapie bewerkstellig kommunikasie tussen die bewuste en onbewuste verstand.  Behalwe dat dit verantwoordelik is vir oorlewing en beskerming, is die onbewuste verstand ook verantwoordelik vir die berging van traumatiese gebeure, belewenisse en emosies.  Daarom, indien sekere emosies te pynlik is, kan toegang daartoe nie deur die beswuste verstand, maar slegs deur die onbewuste verstand, verkry word.  Om toegang tot hierdie herhinneringe te verkry, fasiliteer die hipnoterapeut die komminkasieproses tussen die bewuste- en onbewuste verstand.  Die hipnoterapeut lei die pasiënt, soos wat 'n afrigter 'n atleet deur sy/haar oefenprogram lei, ninne sy/haar onbewuste verstand, om sodoende beide die vermelde trauma en innerlike hulpbronne daarin geberg, te ontdek.  Slegs die pasiënt self kan binne sy/haar onbewuste delf.  Geen ander persoon kan toegang daartoe verkty nie.  Weens die feit dat die pasiënt in beheer is, kan hy/sy die besluit neem om dit te openbaar wat hy/sy ook al ontdek.  Die pasiënt word gevolglik deur 'n verskeidenheid wyses gelei om sy/haar trauma of probleem op te los en te oorkom, hoofsaaklik in 'n veilige, kalm en bedaarde wyse gedurende hipnoterapie

Hipnoterapie word benut om patolgie op 'n holistiese wyse aan te spreek, deur in-ag-neming van al vyf die gebiede van menslike funksionering, naamlik kognitiewe-, affektiewe0, fisiologiese-, geestelike- en gedragsgeoriënteerde funksionering.

Die vier individuele modelle van hipnoterapie wat hoofsaaklik in Suid-Afrika en binne die praktyk toegepas word, word volgende bespreek.  Somtyds word slegs 'n enkele model aangewend, maar meestal word 'n kombinasie van twee of meer benaderings met vaardigheid gekombineer tydens die behandeling van die pasiënt.  Ander meer basiese benaderings, soos kognitiewe gedrags- en/of rasioneel-emotiewe terapie, word ook geïnkorporeer in hipnoterapie.
 

Kopiereg © 2011 Dr. J.S. Scholtemeyer.  Alle regte voorbehou.