Ericksoniaanse hipnoterapie

   

Binne hierdie model van hipnoterapie, werk die hipnoterapeut op 'n INDIREKTE wyse om die pasiënt behulpsaam te wees met die bereiking en beïnvloeding van sy/haar onbewuste verstand.  Die hipnoterapeut gebruik 'n gespesialiseerde taalstelsel deur metafore, verhale, sprokies, gedigte, grappe, idiome, ens. te benut, op gesellige, informele wyse, om die onbewuste verstand lesse te leer. Volgens die model van hipnoterapie is dit meestal nie noodsaaklik om die verlede te ontleed met die doel om die trauma te vind wat die simptome veroorsaak het nie, maar eerder te werk in die hede en die simptome te benut om verandering te bewerkstellig in die hier en nou (die hede).  Dus om die effektiewiteit van die hipnoterapie te bevorder, inkorporeer die terapeut enige iets wat die pasiënt indirek openbaar in terapie (byvoorbeeld liggamshouding, beeldspraak, ens.) of enige iets wat plaasvind in die omgewing op daardie tydstip (byvoorbeeld 'n verbygaande straalvliegtuig, 'n wind wat 'n deur laat raas, ens.). Die hipnoterapeut benut dus die pasiënt se unieke benadering tot, sowel as ervaring van die wêreld.  Die terapeut is konstant besig om beide met die pasiënt te kommunikeer, asook die pasiënt tussen die reëls waar te neem.  Dit alles is die kern van Ericksoniaanse hipnoterapie, met die doel om die hupbronne van die pasiënt se onbewuste verstand te benut om sodoende 'n nuwe begrip van sy/haar simptome in die hier en nou te verkry en dit te wysig tot die pasiënt se voordeel.

 

Kopiereg © 2011 Dr. J.S. Scholtemeyer.  Alle regte voorbehou.