Egotoestand hipnoterapie

   

 

 

 


Die grondslag van dié model van hipnoterapie berus op die beginsel dat die normale onbewuste verstand nie 'n "geheel" of onverdeelde eenheid of entiteit is nie, maar dat dit bestaan uit die verskillende dele, op 'n soortgelyke wyse as wat die liggaam bestaan uit hande, voete, longe, ens.  Elke deel van die onbewuste verstand is soos 'n "gedeeltelike persoon" met 'n eie identiteit en 'n eie funksie.

Dit is baie soortgelyk aan 'n maatskappy wat uit verskeie werknemers bestaan, elk met sy eie identiteit en funksie, maar steeds samewerkend ten opsigte van dieselfde doel.  Onder ideale omstandighede funksioneer die dele as 'n gelukkige, konflikvrye "gesin", baie soortgelyk aan 'n gesin wat uit verskillende persone bestaan, wat saam 'n gelukkige stelsel vorm wanneer al die lede van die gesin in harmonie is.  Probleme ontstaan egter wanneer dele in konflik is en hierdie konflik simptome (depressie, angs, pyn, ens.) veroorsaak, afhangende van onder andere, die identiteit en funksies van daardie dele betrokke in die konflik.  Neem kennis dat hier nie verwys word na 'n gesplete persoonlikheid nie, wat wel kan ontwikkel in uitermatige gevalle van psigopatologie.  Hier word verwys na "normale" funksionering en probleme.

Egotoestand hipnoterapie is gerig op die oplossing van konflik tussen die verskillende dele van die onbewuste verstand.  Die hipnoterapeut is soos 'n fasiliteerder wat 'n onderhandelingsproses tussen die dele lei, op 'n soortgelyke wyse as wat 'n onderhandelaar die konflik binne 'n maatskappy sal oplos.  In die proses word die hulpbronne van die pasiënt se onbewuste verstand benut en word daar ook hulp aan die hipnoterapeut in die proses gelewer.  Sodra die konflik opgelos is, vind genesing plaas.

 

Kopiereg © 2011 Dr. J.S. Scholtemeyer.  Alle regte voorbehou.